Hoe om ’n Fotovriendelike Trouskedule te Beplan
Vir ontspanne paartjies wat natuurlike, tydlose foto’s wil hê – sonder stres
(Meeste van die foto's is van Jarrod en Olivia se troue by Winery Road Forest)
Om jou troudag-skedule met jou fotograaf in gedagte te beplan, maak ’n reuse verskil—nie net vir die foto's nie, maar vir die hele ervaring. ’n Goed gestruktureerde tydlyn help jou om kalm te bly, die oomblikke te geniet, en daardie pragtige, spontane foto's vas te vang wat jy vir altyd sal koester.
Hier is ’n voorgestelde fotovriendelike skedule wat goed werk vir meeste troues in die Wes-Kaap—veral as jy hou van natuurlike lig, goue-uur fotos en moeiteloos mooi oomblikke wat nie té styf voel nie.
Voorbereiding (11:00–14:00)
Die stilte voor die fees
Begin jou oggend rustig en sonder ’n gejaag. Maak genoeg tyd los vir hare, grimering en aantrek, en gun jouself ’n paar oomblikke om asem te haal en alles in te neem.
Ek begin gewoonlik by die bruidegom en sy gevolg, waar ek ontspanne oomblikke vasvang (soms met ’n los baadjie of hemp net vir die foto's), sodat ek daarna die meeste van my tyd op die bruid se voorbereidings kan fokus.
Fotograafwenk:
Deel vooraf met my as daar enige spesifieke foto’s of sentimentele besonderhede is wat vir jou belangrik is—dink aan erfstuk-juwele, ’n handgeskrewe brief, of ’n “first look” met ’n ouer. Ek let altyd op vir betekenisvolle oomblikke, maar as ek weet wat vir jóú spesiaal is, kan ek jou storie meer persoonlik vasvang
Voor-die-seremonie Oomblikke (14:00–16:00)
Emosie, afwagting, en spesiale tradisies
As jy ’n “first look” met jou lewensmaat, jou ouers of jou bruidsmeisies beplan—dis die perfekte tyd. Hierdie private, emosionele oomblik help om senuwees te kalmeer en lewer ongelooflik mooi, opregte foto's op.
Dis ook ’n goeie tyd vir ’n stil gebed, refleksie of enige persoonlike rituele wat julle wil insluit. Dit is ook baie populer dat party paartjies briewe lees vir mekaar sonder dat die een die ander sien!
Bou ’n buffer in:
Beplan minstens 30 minute se rustige tyd aan die einde van die voorbereidingsessie—voordat die bruid moet vertrek na die seremonie. Hierdie tyd gee kans om kalm aan te trek, vinnige portrette te neem, en enige laaste-minute probleempies reg te stel (grimering wat agter is, ’n zip wat breek, of iemand wat laat opdaag). Hierdie buffer gee jou asemruimte sodat jy kalm, nie gejaagd nie, by die deur uitstap.
Seremonie (Laatmiddag, ideaal tussen 16:00–16:30)
Die oomblik wat jy “ja” sê
Laat genoeg tyd toe vir laaste afrondings en touch-ups voor die seremonie. Ek sal ook gewoonlik 10–15 minute voor die seremonie benodig vir laaste foto’s van jou, ten volle aangetrek en gereed.
Tydsbeplanning Tip:
As julle buite trou, kyk na die sonsondergangtyd! ’n Laatmiddagseremonie in sagte, goue lig is perfek vir romantiese, natuurlike foto's. Onthou ook om die temperatuur in ag te neem—veral in die somer. Dis moeilik om jou seremonie te geniet as jy sweet!
Familie- en Groepsfoto's (Direk ná die Seremonie)
Doeltreffend, betekenisvol, en nie te lank nie
Na die seremonie neem ons familie- en groepfoto’s. Dit vat gewoonlik 10–25 minute, afhangend van hoeveel kombinasies julle wil hê.
Om dinge vlot te laat verloop:
- Laat ’n bruidsmeisie of familielid help met ’n lys van groepe.
- Hulle kan mense opspoor en organiseer—veral as julle baie gaste het.
Paartjie- & Bruidsgeselskapfoto's (Goue Uur, ±18:00)
Natuurlike lig, regte emosies, en ontspanne energie
Dis my gunsteling tyd van die dag om julle as paartjie af te neem. Die lig is sag, vleiend, en perfek vir romantiese, egte oomblikke.
Ek beplan gewoonlik vir:
- 20–30 minute vir julle twee alleen
- 5–10 minute vir die bruidsgeselskap (meer as julle ekstra foto's met hulle wil hê)
As julle nie ’n spesifieke fotolokasie in gedagte het nie, sal ek graag ’n voorstel maak wat by julle styl pas en mooi saamwerk met die lig.
Kokteiltjie-uur (18:00–19:30)
Viering en gemaklike saamwees
Terwyl julle canapés geniet en gesels met gaste, neem ek spontane oomblikke vas—lag, geselskap, klank van glase wat klink. Hierdie egte, onbeplande oomblikke is die hart van dokumentêre styl fotografie.
Onthaal & Sleuteloomblikke (19:30–21:00)
Dans, eet en kuier
Maak tyd vir:
- Aandete & toesprake
- Eerste dans en enige ander spesiale danse
- Koeksny, blommeruikergooi, of enige verrassings
Opsionele Nagfoto’s:
Ek is mal daaroor om paartjies snags af te neem—onder feëliggies, sterre of met vonkels. As julle lus is, kan ons 5–10 minute opsy sit vir ’n paar kreatiewe, stemmingsvolle nagportrette.
Geniet die res van die aand (Vanaf 21:00)
Ontspan en neem alles in
Sodra die formaliteite verby is, is dit tyd om regtig te ontspan en die fees te geniet waarvoor julle so lank beplan het. Of julle nou onder feëliggies dans, stil oomblikke met geliefdes deel, of saam laatnag ietsie eet—hierdie deel van die aand is net vir júlle.
Daar’s geen druk vir ’n dramatiese wegspring of gestileerde oomblik nie—tensy dit iets is wat julle wil hê. Net julle mense, julle musiek, en die herinneringe wat julle skep.



